Share this page:  
 

Multilingual Scriptures

(Compare books in 2 different language versions of your choice)

Comparison Search:

Select Language version and font:
You can only select max. of two versions.
Book:
Chapter:
Verse:
---------
From: To:

Free Search:

Select Language version and font:
Enter search text:

Multilingual Scriptures Home » Afrikaans 1953 Bible » Galatians

Afrikaans 1953 Bible
Chapter # Verse # Verse Detail
11Paulus, 'n apostel nie vanweë mense of deur 'n mens nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het,
12en al die broeders wat by my is--aan die gemeentes van Galásië:
13Genade vir julle en vrede van God die Vader en onse Here Jesus Christus,
14wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader,
15aan wie die heerlikheid toekom in alle ewigheid! Amen.
16Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na 'n ander evangelie toe,
17terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.
18Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!
19Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom 'n vervloeking wees!
110Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie 'n dienskneg van Christus wees nie.
111Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie.
112Want ek het dit ook nie van 'n mens ontvang of geleer nie, maar deur 'n openbaring van Jesus Christus.
113Want julle het gehoor van my lewenswandel vroeër in die Jodedom, dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit verwoes het;
114en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral 'n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders.
115Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het,
116om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie,
117en ook nie na Jerusalem opgegaan na die wat voor my apostels was nie, maar na Arabië vertrek en weer teruggekom na Damaskus.
118Vervolgens, drie jaar daarna, het ek na Jerusalem opgegaan om met Petrus kennis te maak en vyftien dae by hom gebly;
119en ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.
120En wat ek julle skryf--voor die aangesig van God, ek lieg nie!
121Daarna het ek gekom in die streke van Sírië en Cilícië;
122en ek was persoonlik onbekend by die Christelike gemeentes van Judéa;
123hulle het net gehoor: hy wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër besig was om uit te roei.
124En hulle het God verheerlik in my.
21Daarna, veertien jaar later, het ek weer na Jerusalem opgegaan met Barnabas, en Titus ook saamgeneem.
22Maar ek het opgegaan op grond van 'n openbaring en hulle die evangelie voorgelê wat ek onder die heidene verkondig; en afsonderlik aan die wat in aansien was, dat ek nie miskien tevergeefs sou loop of geloop het nie.
23Maar selfs is Titus, wat by my was, nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy 'n Griek is;
24en dit vanweë die ingesmokkelde valse broeders wat ingesluip het om ons vryheid te bespied wat ons in Christus Jesus het, sodat hulle ons in diensbaarheid kon bring;
25aan wie ons selfs nie 'n oomblik in onderworpenheid toegegee het nie, sodat die waarheid van die evangelie by julle bestendig sou bly.
26Maar van die wat in aansien was--wat hulle vroeër was, maak by my geen verskil nie; God neem die persoon van die mens nie aan nie--hulle dan wat in aansien was, het my niks meer opgelê nie.
27Maar, inteendeel, toe hulle sien dat aan my die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou is, net soos aan Petrus dié vir die besnedenes--
28want Hy wat Petrus bekragtig het met die oog op die apostelskap vir die besnedenes, het my ook bekragtig met die oog op die heidene--
29en toe hulle merk die genade wat aan my gegee is, het Jakobus en Céfas en Johannes, wat as pilare geag is, aan my en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee, sodat ons na die heidene en hulle na die besnedenes kon gaan;
210alleen moes ons aan die armes dink, wat ek my juis ook beywer het om te doen.
211Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het.
212Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is.
213En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Barnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins.
214Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden lewe en nie soos 'n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?
215Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie,
216terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.
217Maar as ons wat streef om in Christus geregverdig te word, self ook sondaars bevind is, is Christus dan 'n dienaar van die sonde? Nee, stellig nie!
218Want as ek weer opbou wat ek afgebreek het, dan betoon ek myself 'n oortreder;
219want deur die wet is ek vir die wet dood om vir God te lewe.
220Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
221Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.
31o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?
32Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?
33Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?
34Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was!
35Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?
36Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken.
37Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.
38En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word.
39Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.
310Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.
311En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.
312Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.
313Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word--want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang--
314sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.
315Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs 'n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie.
316Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.
317Maar ek sê dít: die wet wat vier honderd en dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie.
318Want as die erfenis uit die wet is, dan is dit nie meer uit die belofte nie. Maar God het dit aan Abraham deur 'n belofte genadiglik geskenk.
319Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van 'n middelaar.
320En die middelaar is nie net vir een nie; maar God is een.
321Is die wet dan teen die beloftes van God? Nee, stellig nie! Want as daar 'n wet gegee was wat krag het om lewend te maak, dan sou die geregtigheid werklik uit die wet wees.
322Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.
323Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.
324Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
325Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder 'n tugmeester nie.
326Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;
327want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.
328Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.
329En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.
41Maar ek sê: So lank as die erfgenaam 'n kind is, verskil hy niks van 'n dienskneg nie, al is hy heer van alles;
42maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal.
43So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld.
44Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet,
45om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.
46En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!
47Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.
48Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie;
49maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?
410Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.
411Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het.
412Broeders, ek bid julle, word soos ek, want ek is ook soos julle. Julle het my geen onreg aangedoen nie;
413maar julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het;
414en julle het my beproewing in my vlees nie verag of verfoei nie, maar julle het my ontvang as 'n engel van God, ja, as Christus Jesus.
415Wat was dan julle saligprysing? Want ek getuig van julle dat julle, as dit moontlik was, jul oë uitgegrawe en vir my sou gegee het.
416Het ek dan julle vyand geword deur julle die waarheid te vertel?
417Hulle ywer vir julle is nie goed nie, maar hulle wil ons buitesluit, sodat julle vir hulle kan ywer.
418Dit is goed as daar altyd geywer word in 'n goeie saak en nie alleen wanneer ek by julle teenwoordig is nie,
419my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle 'n gestalte verkry.
420En ek sou wens om nou by julle teenwoordig te wees en my stem te verander, want ek is buite raad met julle.
421Julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie?
422Want daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die vrye.
423Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye deur die belofte.
424Dit is sinnebeelde, want dié vroue staan vir twee verbonde: een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders baar--dit is Hagar;
425want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny.
426Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.
427Want daar is geskrywe: Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat 'n man het.
428Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte;
429maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook.
430Maar wat sê die Skrif? Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie.
431Daarom, broeders, ons is nie kinders van die slavin nie, maar van die vrye.
51Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.
52Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie.
53En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou.
54Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.
55Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.
56Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk.
57Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees?
58Hierdie oortuiging kom nie van Hom wat julle roep nie.
59'n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur.
510Ek vertrou van julle in die Here dat julle nie anders sal dink nie; maar die een wat julle in die war bring, sal die oordeel dra, wie dit ook mag wees.
511Maar ek, broeders, as ek nog die besnydenis verkondig, waarom word ek nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis vernietig!
512Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink!
513Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.
514Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
515Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.
516Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;
517want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.
518Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.
519En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid;
520afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap;
521afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.
522Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
523Teen sulke dinge is die wet nie.
524Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.
525As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.
526Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.
61Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.
62Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.
63Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.
64Maar laat elkeen sy eie werk op die proef stel; en dan sal hy grond vir roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander betref nie.
65Want elkeen sal sy eie pak dra.
66Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee.
67Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.
68Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.
69En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.
610Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.
611Kyk met watter groot letters ek met my eie hand aan julle skrywe.
612Almal wat 'n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie.
613Want ook hulle wat besny word, hou self nie die wet nie; maar hulle wil hê dat julle besny moet word, sodat hulle in julle vlees kan roem.
614Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.
615Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar 'n nuwe skepsel.
616En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!
617Verder moet niemand my moeite aandoen nie, want ek dra die littekens van die Here Jesus in my liggaam.
618Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle gees, broeders! Amen.