Share this page:  
 

Multilingual Scriptures

(Compare books in 2 different language versions of your choice)

Comparison Search:

Select Language version and font:
You can only select max. of two versions.
Book:
Chapter:
Verse:
---------
From: To:

Free Search:

Select Language version and font:
Enter search text:

Multilingual Scriptures Home » Afrikaans 1953 Bible » Mark

Afrikaans 1953 Bible
Chapter # Verse # Verse Detail
11Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God.
12Soos geskrywe is in die Profete: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u pad voor U uit sal regmaak--
13die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!
14Johannes het gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig.
15En die hele Joodse land en die inwoners van Jerusalem het uitgegaan na hom toe, en almal is deur hom gedoop in die Jordaanrivier met belydenis van hulle sondes.
16En Johannes was gekleed met kameelhare en 'n leergord om sy heupe, en hy het sprinkane en wilde heuning geëet.
17En hy het gepreek en gesê: Hy wat sterker is as ek, kom ná my, en ek is nie waardig om neer te buk en sy skoenriem los te maak nie.
18Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle doop met die Heilige Gees.
19En in daardie dae het Jesus van Násaret in Galiléa gekom en is deur Johannes in die Jordaan gedoop.
110En dadelik toe Hy opklim uit die water, sien Hy die hemele skeur en die Gees soos 'n duif op Hom neerdaal.
111En daar het 'n stem uit die hemele gekom: U is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.
112En dadelik het die Gees Hom uitgedryf in die woestyn.
113En Hy was daar in die woestyn veertig dae lank, terwyl Hy deur die Satan versoek is; en Hy was saam met die wilde diere, en die engele het Hom gedien.
114En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig
115en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.
116En terwyl Hy langs die see van Galiléa loop, sien Hy Simon en Andréas, sy broer, besig om 'n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers.
117En Jesus sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal maak dat julle vissers van mense word.
118En dadelik het hulle hul nette laat staan en Hom gevolg.
119En toe Hy daarvandaan 'n bietjie verder gaan, sien Hy Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer, wat besig was om die nette in die skuit heel te maak.
120En dadelik het Hy hulle geroep, en hulle het hul vader Sebedéüs met die gehuurde mense in die skuit laat staan en Hom gevolg.
121En hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan en begin leer.
122En hulle was verslae oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie.
123En daar was in hulle sinagoge 'n man met 'n onreine gees; en hy het uitgeskreeu
124en gesê: Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!
125En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit!
126En die onreine gees het hom stuiptrekkings laat kry en met 'n groot stem geskreeu en uit hom uitgegaan.
127En almal was verbaas, sodat hulle onder mekaar vra en sê: Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is?
128En die gerug aangaande Hom is dadelik versprei in die hele omtrek van Galiléa.
129En dadelik toe hulle uit die sinagoge uitgegaan het, kom hulle saam met Jakobus en Johannes in die huis van Simon en Andréas.
130En die skoonmoeder van Simon het siek gelê aan die koors; en dadelik het hulle Hom van haar gesê.
131Daarop gaan Hy na haar, neem haar hand en rig haar op, en dadelik het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.
132En toe dit aand geword het en die son onder was, het hulle na Hom gebring almal wat ongesteld en van duiwels besete was.
133En die hele stad het by die deur saamgekom.
134En baie wat aan allerhande siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels uitgedryf en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het.
135En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid.
136En Simon en die wat by hom was, het Hom gevolg.
137En toe hulle Hom vind, sê hulle vir Hom: Almal soek U.
138En Hy sê vir hulle: Laat ons na die naburige dorpe gaan, sodat Ek ook daar kan preek; want daarvoor het Ek uitgegaan.
139En Hy het die hele Galiléa deur in hulle sinagoges gepreek en die duiwels uitgedryf.
140En daar kom 'n melaatse na Hom toe wat Hom smeek en voor Hom op die knieë val en vir Hom sê: As U wil, kan U my reinig.
141En Jesus het vir hom innig jammer gevoel en die hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: Ek wil, word gereinig!
142En toe Hy dit sê, het die melaatsheid hom dadelik verlaat, en hy is gereinig.
143En nadat Hy hom ernstig aangespreek het, stuur Hy hom dadelik weg
144en sê vir hom: Pas op dat jy aan niemand iets vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskryf het, tot 'n getuienis vir hulle.
145Maar hy het uitgegaan en begin om baie dinge rond te vertel en die saak rugbaar te maak, sodat Hy nie meer openlik in 'n stad kon ingaan nie; maar Hy was buite in verlate plekke, en hulle het van alle kante na Hom gekom.
21En ná 'n paar dae het Hy weer in Kapérnaüm gekom, en die mense het gehoor dat Hy in die huis was.
22En dadelik het baie saamgekom, sodat daar selfs by die deur nie meer plek was nie; en Hy was besig om aan hulle die woord te verkondig.
23En daar kom mense na Hom met 'n verlamde man wat deur vier gedra word.
24En toe hulle vanweë die skare nie naby Hom kon kom nie, maak hulle die dak oop waar Hy was, en nadat hulle dit oopgebreek het, het hulle die bed waar die verlamde op lê, laat afsak.
25En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Seun, jou sondes is jou vergewe!
26En sommige van die skrifgeleerdes het daar gesit en in hulle harte geredeneer:
27Waarom praat hierdie man so godslasterlik? Wie kan sondes vergewe behalwe Een, naamlik God?
28En Jesus het dadelik in sy gees geweet dat hulle by hulleself so redeneer, en Hy sê vir hulle: Wat redeneer julle oor hierdie dinge in jul harte?
29Wat is makliker, om vir die verlamde te sê: Die sondes is jou vergewe! of om te sê: Staan op en neem jou bed op en loop?
210Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op die aarde sondes te vergewe--sê Hy vir die verlamde man:
211Ek sê vir jou: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.
212En dadelik staan hy op en neem sy bed op en gaan voor die oë van almal uit, sodat almal verbaas was en God verheerlik en sê: So iets het ons nog nooit gesien nie!
213En Hy het weer uitgegaan langs die see, en die hele skare het na Hom gekom, en Hy het hulle geleer.
214En toe Hy verbygaan, sien Hy Levi, die seun van Alféüs, by die tolhuis sit en sê vir hom: Volg My. En hy het opgestaan en Hom gevolg.
215En terwyl Hy in sy huis aan tafel was, kom daar baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel; want daar was baie, en hulle het Hom gevolg.
216En toe die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom saam met die tollenaars en sondaars sien eet, sê hulle vir sy dissipels: Wat is dit dat Hy saam met die tollenaars en sondaars eet en drink?
217En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.
218En die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs was besig om te vas. Toe kom hulle en sê vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?
219En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? So lank as hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie.
220Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas, in daardie dae.
221En niemand werk 'n nuwe stuk lap op 'n ou kleed nie; anders skeur sy nuwe aangelapte stuk van die oue af, en daar kom 'n erger skeur.
222En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke laat bars, en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word.
223En terwyl Hy op die sabbat deur die gesaaides loop, het sy dissipels al gaande are begin pluk.
224Toe sê die Fariseërs vir Hom: Kyk, waarom doen hulle op die sabbat wat nie geoorloof is nie?
225En Hy sê vir hulle: Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het nie--toe hy in die nood was, en hy en die wat by hom was, honger gehad het--
226hoe hy in die huis van God gegaan het in die tyd van Abjatar, die hoëpriester, en die toonbrode geëet het wat vir niemand behalwe die priesters geoorloof is om te eet nie; en ook aan die wat saam met hom was, gegee het?
227En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.
228Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat.
31En Hy het weer in die sinagoge gegaan, en dáár was 'n man met 'n verdorde hand.
32En hulle het Hom in die oog gehou, of Hy hom op die sabbat gesond sou maak, sodat hulle Hom kon aanklae.
33En Hy sê vir die man met die verdorde hand: Staan op in hul midde.
34Daarop sê Hy vir hulle: Is dit geoorloof om op die sabbat goed of kwaad te doen, 'n lewe te red of dood te maak? Maar hulle het stilgebly.
35En nadat Hy hulle rondom met toorn aangekyk het en tegelykertyd bedroef was oor die hardheid van hulle hart, sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en sy hand is herstel, gesond soos die ander een.
36Toe gaan die Fariseërs uit en hou dadelik raad met die Herodiane teen Hom, sodat hulle Hom sou kan ombring.
37En Jesus het met sy dissipels teruggegaan na die see toe, en 'n groot menigte het Hom gevolg uit Galiléa en Judéa
38en Jerusalem en Iduméa en van oorkant die Jordaan af. En die wat om Tirus en Sidon gewoon het, 'n groot menigte, het na Hom gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen.
39En Hy het aan sy dissipels gesê dat 'n skuitjie altyd vir Hom moes klaar lê vanweë die skare, sodat hulle Hom nie miskien sou verdring nie.
310Want Hy het baie gesond gemaak, sodat almal wat vol kwale was, op Hom toegeloop het om Hom aan te raak.
311En elke keer as die onreine geeste Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskreeu en gesê: U is die Seun van God!
312En Hy het hulle herhaaldelik streng gebied om Hom nie bekend te maak nie.
313En Hy het op die berg geklim en na Hom geroep die wat Hy wou hê, en hulle het na Hom gekom.
314En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek
315en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf.
316En aan Simon het Hy die bynaam Petrus gegee;
317en verder Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, die broer van Jakobus--aan hulle het Hy die bynaam Boanérges gegee, dit is, seuns van die donder--
318en Andréas en Filippus, en Bartholoméüs en Matthéüs, en Thomas en Jakobus, die seun van Alféüs, en Thaddéüs en Simon Kananítes,
319en Judas Iskáriot, hy wat Hom verraai het.
320En hulle het in 'n huis gegaan, en 'n skare het weer saamgekom, sodat hulle selfs nie brood kon eet nie.
321Toe sy mense dit hoor, gaan hulle uit om Hom in die hande te kry; want hulle het gesê: Hy is buite sy sinne.
322En die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: Hy het Beëlsebul! en: Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit.
323En Hy het hulle na Hom geroep en vir hulle deur gelykenisse gesê: Hoe kan die Satan die Satan uitdryf?
324En as 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie;
325en as 'n huis teen homself verdeeld is, kan daardie huis nie bly staan nie;
326en as die Satan teen homself opstaan en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar hy kom tot 'n einde.
327Niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed roof as hy nie eers die sterk man boei nie; en dan sal hy sy huis berowe.
328Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het;
329maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel--
330omdat hulle gesê het: Hy het 'n onreine gees.
331Sy broers en sy moeder het toe gekom, en terwyl hulle buite staan, stuur hulle na Hom om Hom te roep.
332En 'n skare het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: U moeder en u broers soek U daarbuite.
333En Hy antwoord hulle en sê: Wie is my moeder of my broers?
334En Hy kyk rond na die wat rondom Hom sit, en sê: Dáár is my moeder en my broers!
335Want elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder.
41En Hy het nog 'n maal by die see begin leer; en 'n groot menigte het by Hom saamgekom, sodat Hy in die skuit geklim en op die see gaan sit het, en die hele skare was op die land by die see.
42En Hy het hulle baie dinge geleer deur gelykenisse en vir hulle in sy lering gesê:
43Luister! 'n Saaier het uitgegaan om te saai.
44En terwyl hy saai, het 'n deel langs die pad geval, en die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet.
45En 'n ander deel het op 'n rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgekom, omdat dit geen diepte van grond gehad het nie.
46En toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.
47En 'n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik; en dit het geen vrug opgelewer nie.
48En 'n ander deel het in die goeie grond geval, en dit het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra: een dertig-- en een sestig-- en een honderdvoudig.
49En Hy sê vir hulle: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
410En toe Hy alleen was, het die wat saam met die twaalf rondom Hom was, Hom na die gelykenis gevra.
411En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse,
412sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie.
413En Hy sê vir hulle: Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan?
414Die saaier saai die woord.
415En dit is hulle wat langs die pad is--waar die woord gesaai word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is.
416Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word--wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem,
417maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir 'n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik.
418En hulle by wie in die dorings gesaai word--dit is hulle wat die woord hoor,
419en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar.
420En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is--hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig-- en een sestig-- en een honderdvoudig.
421En Hy het vir hulle gesê: Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te word nie?
422Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom.
423As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor.
424En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor.
425Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.
426En Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer 'n mens die saad in die grond gooi;
427en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot--hoe, weet hy self nie.
428Want vanself bring die aarde vrug voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die volle koring in die aar.
429En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.
430En Hy het gesê: Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel?
431Dit is soos 'n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is;
432en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak.
433En met baie sulke gelykenisse het Hy die woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan;
434en sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie; maar afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê.
435En toe dit aand geword het op daardie dag, het Hy vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die ander kant.
436En hulle het die skare verlaat en Hom, net soos Hy was, saamgeneem in die skuit; en daar was ook ander skuitjies by Hom.
437En 'n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word.
438Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?
439En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het 'n groot stilte gekom.
440Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?
441En 'n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!
51En hulle het aan die oorkant van die see gekom in die land van die Gadaréners.
52En toe Hy uit die skuit gaan, kom daar dadelik uit die grafte Hom tegemoet 'n man met 'n onreine gees,
53wat sy verblyf in die grafte gehad het. En niemand kon selfs met kettings hom bind nie;
54want hy was dikwels met voetboeie en kettings gebind, en die kettings is deur hom uitmekaar geruk en die voetboeie stukkend gebreek; en niemand was in staat om hom te tem nie.
55En altyd, nag en dag, het hy aangehou om te skreeu op die berge en in die grafte en homself met klippe stukkend te slaan.
56En toe hy Jesus van ver af sien, hardloop hy en val voor Hom neer
57en skreeu met 'n groot stem en sê: Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie.
58Want Hy het vir hom gesê: Onreine gees, gaan uit die man uit!
59En Hy vra hom: Wat is jou naam? En hy antwoord en sê: Legio is my naam, want ons is baie.
510Toe smeek hy Hom dringend om hulle nie uit die land weg te stuur nie.
511En dáár teen die berge het 'n groot trop varke gewei,
512en al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons in die varke, sodat ons in hulle kan vaar.
513En Jesus het hulle dit dadelik toegelaat; en die onreine geeste het uitgegaan en in die varke gevaar, en die trop--daar was omtrent twee duisend--het van die krans af in die see gestorm en in die see verdrink.
514En die wagters van die varke het gevlug en dit in die stad en in die buitewyke vertel; en hulle het uitgekom om te sien wat daar gebeur het.
515Toe kom hulle by Jesus en sien die besetene sit, gekleed en by sy verstand--die een wat die legioen gehad het. En hulle was bevrees.
516Die wat dit gesien het, vertel toe aan hulle hoe dit met die besetene gegaan het, en ook van die varke.
517En hulle het Hom begin smeek om weg te gaan uit hulle gebied.
518En toe Hy in die skuit klim, het die man wat van die duiwels besete gewees het, Hom gesmeek om by Hom te kan bly.
519Maar Jesus het hom dit nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.
520En hy het weggegaan en in Dekápolis begin verkondig watter groot dinge Jesus aan hom gedoen het, en almal was verwonderd.
521En toe Jesus weer in die skuit oorgevaar het na die ander kant, het 'n groot menigte by Hom vergader. En Hy was by die see.
522En daar kom een van die owerstes van die sinagoge met die naam van Jaïrus; en toe hy Hom sien, val hy aan sy voete neer
523en smeek Hom dringend en sê: My dogtertjie is op haar uiterste; kom lê haar die hande op, sodat sy gesond kan word, en sy sal lewe.
524En Hy het saam met hom gegaan. En 'n groot menigte het Hom gevolg en Hom verdring.
525En 'n sekere vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het
526en veel onder baie geneeshere gely en al haar besittings uitgegee het sonder om enige baat te vind, maar eerder erger geword het,
527het van Jesus gehoor en onder die skare van agter gekom en sy kleed aangeraak;
528want sy het gesê: As ek maar sy klere kan aanraak, sal ek gesond word.
529En dadelik het die fontein van haar bloed opgedroog, en sy het aan haar liggaam bemerk dat sy van haar kwaal genees was.
530En dadelik toe Jesus in Homself die krag gewaarword wat van Hom uitgegaan het, draai Hy Hom om onder die skare en sê: Wie het my klere aangeraak?
531En sy dissipels antwoord Hom: U sien dat die skare U verdring, en U sê: Wie het My aangeraak?
532Toe kyk Hy rond om haar te sien wat dit gedoen het.
533Die vrou, wat gevrees en gebeef het omdat sy wis wat met haar gebeur het, kom toe en val voor Hom neer en vertel Hom die hele waarheid.
534En Hy sê vir haar: Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees.
535Terwyl Hy nog spreek, kom daar mense van die owerste van die sinagoge se huis en sê: U dogter is dood. Waarom val u die Meester nog lastig?
536Maar dadelik, toe Jesus die woord hoor wat gespreek is, sê Hy vir die owerste van die sinagoge: Moenie vrees nie; glo net.
537En Hy het niemand toegelaat om saam met Hom te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus.
538En Hy kom in die huis van die owerste van die sinagoge en sien 'n rumoer: mense wat baie ween en huil.
539En toe Hy binnegaan, sê Hy vir hulle: Waarom gaan julle so te kere en ween julle? Die kind is nie dood nie, maar slaap.
540En hulle het Hom uitgelag. Maar Hy het almal uitgedryf en die vader van die kind saamgeneem en die moeder en die wat by Hom was, en ingegaan waar die kind lê.
541Toe gryp Hy die hand van die kind en sê vir haar: Talíta, koemi! wat, as dit vertaal word, beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!
542En die dogtertjie het dadelik opgestaan en begin rondloop, want sy was twaalf jaar oud. En hulle was uitermate verbaas.
543En Hy het hulle met nadruk beveel dat niemand dit moes weet nie, en gesê dat daar vir haar iets te ete gegee moes word.
61En Hy het daarvandaan weggegaan en in sy vaderstad gekom, en sy dissipels het Hom gevolg.
62En toe dit sabbat geword het, begin Hy in die sinagoge te leer, en baie wat Hom gehoor het, was verslae en sê: Waar kry Hy hierdie dinge vandaan, en watter wysheid is aan Hom gegee, dat ook sulke kragte deur sy hande plaasvind?
63Is Hy nie die timmerman, die seun van Maria, en die broer van Jakobus en Joses en Judas en Simon nie? En is sy susters nie hier by ons nie? En hulle het aanstoot aan Hom geneem.
64En Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en onder sy familie en in sy huis.
65En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het.
66En Hy was verwonderd oor hulle ongeloof. Daarop het Hy die dorpe rondom deurgegaan en geleer.
67En Hy het die twaalf na Hom geroep en hulle twee-twee begin uitstuur en het hulle mag gegee oor die onreine geeste,
68en hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te neem nie as net 'n stok alleen--geen reissak, geen brood, geen geld in die beurs nie,
69maar skoene aan die voete; en: Julle moet nie twee kledingstukke aantrek nie.
610En Hy het vir hulle gesê: Waar julle ook al in 'n huis mag kom, bly dáár totdat julle daarvandaan vertrek.
611En almal wat julle nie ontvang of na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof onder julle voete af tot 'n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom of Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.
612En hulle het uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moes bekeer.
613En hulle het baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.
614Toe koning Herodes dit hoor--want sy naam het bekend geword--het hy gesê: Johannes die Doper het uit die dode opgestaan, en daarom werk dié kragte in Hom.
615Ander het gesê: Hy is Elía, en ander weer het gesê: Hy is 'n profeet of soos een van die profete.
616Maar toe Herodes dit hoor, sê hy: Johannes wat ek onthoof het, dit is hy; hy het uit die dode opgestaan.
617Want Herodes self het gestuur en Johannes gevange geneem en hom in die gevangenis geboei, vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, omdat hy met haar getrou het.
618Want Johannes het aan Herodes gesê: Dit is u nie geoorloof om u broer se vrou te hê nie.
619En Heródias het 'n oog op hom gehad en wou hom om die lewe bring en sy kon nie.
620Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom beskerm; en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge gedoen en graag na hom geluister.
621En op die geskikte dag, toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy groot manne en die owerstes oor duisend en die vernaamstes van Galiléa 'n maaltyd gegee het;
622en toe die dogter van dieselfde Heródias inkom en dans, en Herodes en die wat saam aan tafel was, behaag, sê die koning vir die meisie: Vra my net wat jy wil, en ek sal dit aan jou gee.
623En hy het vir haar gesweer: Net wat jy my vra, sal ek jou gee, al was dit ook die helfte van my koninkryk.
624Daarop gaan sy uit en sê vir haar moeder: Wat sal ek vra? Toe antwoord sy: Die hoof van Johannes die Doper.
625En dadelik gaan sy haastig in na die koning en vra en sê: Ek wil hê dat u my op die daad die hoof van Johannes die Doper op 'n skottel gee.
626Toe word die koning baie bedroef, maar ter wille van die eed en die wat saam aan tafel was, wou hy haar nie afwys nie.
627En die koning stuur dadelik een van sy lyfwag met die bevel om sy hoof te bring; en hy het gegaan en hom in die gevangenis onthoof
628en sy hoof op 'n skottel gebring en dit aan die meisie gegee, en die meisie het dit aan haar moeder gegee.
629En toe sy dissipels dit hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en dit in 'n graf neergelê.
630En die apostels het by Jesus saamgekom en Hom alles vertel wat hulle gedoen sowel as wat hulle geleer het.
631En Hy sê vir hulle: Kom julle self in die eensaamheid na 'n verlate plek en rus 'n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie.
632En hulle het met die skuit vertrek na 'n verlate plek in die eensaamheid.
633En die skare het hulle sien weggaan, en baie het Hom herken en te voet van al die stede af daar saamgestroom en voor hulle uit gegaan en by Hom vergader.
634En toe Jesus uitklim, sien Hy 'n groot menigte, en Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was; en Hy het hulle baie dinge begin leer.
635En toe dit reeds laat geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate en dit is reeds laat.
636Stuur hulle weg, sodat hulle na die buitewyke en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want hulle het niks om te eet nie.
637Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle aan hulle iets om te eet. En hulle sê vir Hom: Moet ons gaan en vir twee honderd pennings brood koop en aan hulle gee om te eet?
638En Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? Gaan kyk. En toe hulle dit te wete gekom het, sê hulle: Vyf, en twee visse.
639En Hy het hulle beveel om almal klompies-klompies op die groen gras te laat sit.
640En hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig.
641Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en Hy breek die brode en gee dit aan sy dissipels om dit aan hulle voor te sit. Ook die twee visse het Hy onder almal verdeel.
642En almal het geëet en versadig geword;
643en hulle het van die brokstukke twaalf mandjies vol opgetel, en van die visse.
644En die wat van die brood geëet het, was omtrent vyf duisend manne.
645En dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en vooruit te vaar na die oorkant, na Betsáida, onderwyl Hy die skare sou wegstuur.
646En nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid.
647En toe dit aand geword het, was die skuit in die middel van die see en Hy alleen op die land.
648En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei, want die wind was teen hulle. En omtrent die vierde nagwaak het Hy na hulle gekom, al wandelende op die see. En Hy wou by hulle verbygaan.
649En toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gemeen dat dit 'n spook was en hard uitgeskreeu;
650want hulle het Hom almal gesien en was ontsteld. Toe spreek Hy dadelik met hulle en sê vir hulle: Hou goeie moed, dit is Ek; moenie vrees nie.
651En Hy het by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê; en hulle was by hulleself uitermate verbaas en verwonderd.
652Want hulle het by die wonder van die brode nie verstandig geword nie, omdat hulle hart verhard was.
653En nadat hulle oorgevaar het, het hulle by die land Gennésaret aangekom en daar aan wal gaan lê.
654En toe hulle uit die skuit gaan, het die mense Hom dadelik herken.
655en hulle het in daardie hele omtrek rondgeloop en die wat ongesteld was, op bedde begin ronddra na die plek waar hulle hoor dat Hy is.
656En waar Hy ook al ingegaan het in dorpe of stede of buitewyke, het hulle die wat ongesteld was, op die markpleine neergesit en Hom gesmeek om, al was dit maar die soom van sy kleed, aan te raak; en almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword.
71En die Fariseërs en sommige van die skrifgeleerdes wat van Jerusalem gekom het, het by Hom saamgekom;
72en toe hulle sommige van sy dissipels met onrein, dit is met ongewaste, hande sien brood eet, het hulle dit afgekeur.
73Want die Fariseërs en al die Jode eet nie as hulle nie deeglik die hande gewas het nie, omdat hulle vashou aan die oorlewering van die ou mense.
74En wanneer hulle van die mark kom, eet hulle nie as hulle nie gewas het nie; en baie ander dinge is daar wat hulle aangeneem het om te onderhou: die wassery van bekers en kanne en kopergoed en bedde.
75Daarop stel die Fariseërs en die skrifgeleerdes Hom die vraag: Waarom wandel u dissipels nie ooreenkomstig die oorlewering van die ou mense nie, maar eet brood met ongewaste hande?
76En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.
77Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.
78Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.
79En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou.
710Want Moses het gesê: Eer jou vader en jou moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe.
711Maar julle sê: As 'n mens aan vader of moeder sê: Enige voordeel wat u van my mag geniet, is korban, dit is 'n offergawe--
712dan laat julle hom nie meer toe om iets vir sy vader of sy moeder te doen nie.
713So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.
714En Hy het die hele skare na Hom geroep en vir hulle gesê: Luister almal na My en verstaan.
715Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, dít is die dinge wat die mens onrein maak.
716As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor!
717En toe Hy van die skare af in 'n huis gekom het, vra sy dissipels Hom oor die gelykenis.
718En Hy sê vir hulle: Is julle ook so sonder verstand? Begryp julle nie dat alles wat van buite af in die mens ingaan, hom nie onrein kan maak nie,
719omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in die maag, en dit gaan in die heimlikheid uit en maak al die voedsel rein?
720En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein.
721Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord,
722diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid.
723Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.
724En Hy het opgestaan en daarvandaan na die gebied van Tirus en Sidon vertrek. En toe Hy in die huis gegaan het, wou Hy nie dat iemand dit sou weet nie; maar Hy kon nie verborge bly nie.
725Want 'n vrou wie se dogtertjie 'n onreine gees gehad het, het van Hom gehoor en gekom en voor sy voete neergeval.
726En sy was 'n Griekse vrou, 'n Siro-Feniciese van geboorte, en sy het Hom gevra om die duiwel uit haar dogter uit te dryf.
727Maar Jesus sê vir haar: Laat eers die kinders versadig word; want dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en vir die hondjies te gooi nie.
728En sy antwoord en sê vir Hom: Ja, Here, maar die hondjies eet darem onder die tafel van die kinders se krummels.
729En Hy sê vir haar: Ter wille van hierdie woord kan jy gaan; die duiwel het uit jou dogter uitgevaar.
730En toe sy huis toe gaan, vind sy dat die duiwel uitgevaar het en dat haar dogter op die bed lê.
731En Hy het weer uit die gebied van Tirus en Sidon vertrek en na die see van Galiléa gegaan, deur die gebied van Dekápolis.
732Toe bring hulle na Hom 'n dowe wat swaar praat, en smeek Hom om hom die hande op te lê.
733En Hy neem hom opsy, weg van die skare, en steek sy vingers in sy ore, en spuug en raak sy tong aan;
734en nadat Hy opgekyk het na die hemel, sug Hy en sê aan hom: Éffata, dit is: Gaan oop!
735En dadelik het sy ore oopgegaan en die band van sy tong losgeraak, en hy het reg gepraat.
736En Hy het hulle beveel om dit aan niemand te sê nie; maar hoe meer Hy hulle dit beveel, hoe meer hulle dit verkondig.
737En hulle was uitermate verslae en het gesê: Hy het alles goed gedoen: die dowes laat Hy hoor en die stommes praat.
81In dié dae toe daar 'n baie groot menigte was en hulle niks gehad het om te eet nie, het Jesus sy dissipels na Hom geroep en vir hulle gesê:
82Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie.
83En as Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op die pad beswyk, want sommige van hulle kom van ver.
84En sy dissipels antwoord Hom: Waarvandaan sal 'n mens hulle hier in die woestyn kan versadig met brood?
85Toe vra Hy hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle sê: Sewe.
86En Hy gee aan die skare bevel om op die grond te gaan sit; daarop neem Hy die sewe brode, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels om dit voor te sit; en hulle sit dit aan die skare voor.
87Hulle het ook 'n paar vissies gehad; en nadat Hy gedank het, sê Hy dat hulle dit ook moet voorsit.
88En hulle het geëet en versadig geword en die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol.
89En die wat geëet het, was omtrent vier duisend. En Hy het hulle weggestuur.
810En dadelik het Hy met sy dissipels in die skuit geklim en in die streke van Dalmanúta gekom.
811En die Fariseërs het uitgegaan en met Hom begin redetwis en van Hom 'n teken uit die hemel gevra om Hom te versoek.
812Toe sug Hy swaar in sy gees en sê: Waarom begeer hierdie geslag 'n teken? Voorwaar Ek sê vir julle, aan hierdie geslag sal sekerlik geen teken gegee word nie.
813En Hy het hulle verlaat en weer in die skuit geklim en na die oorkant gegaan.
814En hulle het vergeet om brode saam te neem, en het net een brood by hulle in die skuit gehad.
815En Hy het hulle beveel en gesê: Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.
816Toe redeneer hulle onder mekaar en sê: Dit is omdat ons geen brode het nie.
817En Jesus merk dit en sê vir hulle: Waarom redeneer julle dat julle geen brode het nie? Begryp julle nie en verstaan julle nie? Het julle nog jul verharde hart?
818Het julle oë en sien julle nie? En het julle ore en hoor julle nie?
819En onthou julle nie toe Ek die vyf brode vir die vyf duisend gebreek het, hoeveel mandjies vol brokstukke julle opgetel het nie? Hulle sê vir Hom: Twaalf.
820En die sewe vir die vier duisend--hoeveel mandjies vol brokstukke het julle opgetel? En hulle sê: Sewe.
821Toe sê Hy vir hulle: Hoe verstaan julle dan nie!
822En Hy het in Betsáida gekom, en hulle het 'n blinde man na Hom gebring en Hom gesmeek om hom aan te raak.
823Hy neem toe die blinde by die hand en lei hom uit buitekant die dorp; en nadat Hy in sy oë gespuug en hom die hande opgelê het, vra Hy hom of hy iets sien.
824En hy kyk op en sê: Ek sien die mense, want ek sien hulle soos bome rondloop.
825Daarna lê Hy weer die hande op sy oë en laat hom opkyk, en hy is herstel en het almal van ver af duidelik gesien.
826En Hy het hom na sy huis gestuur en gesê: Moenie in die dorp gaan of dit aan iemand in die dorp vertel nie.
827En Jesus en sy dissipels het uitgegaan na die dorpe van Cesaréa-Filíppi; en op die pad vra Hy sy dissipels en sê vir hulle: Wie sê die mense is Ek?
828En hulle antwoord: Johannes die Doper, en ander: Elía, en ander: Een van die profete.
829En Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Petrus antwoord en sê vir Hom: U is die Christus.
830En Hy het hulle streng beveel om niemand van Hom te vertel nie.
831Toe het Hy hulle begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en ná drie dae opstaan.
832En hierdie woord het Hy ronduit gespreek. En Petrus het Hom opsy geneem en Hom begin bestraf.
833Maar Hy het Hom omgedraai, en terwyl Hy sy dissipels aankyk, het Hy Petrus bestraf en gesê: Gaan weg agter My, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar dié van die mense.
834En toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.
835Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red.
836Want wat sal dit 'n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?
837Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?
838Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.
91En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God met krag sien kom het nie.
92En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle alleen op 'n hoë berg in die eensaamheid geneem; en Hy het voor hulle van gedaante verander,
93en sy klere het blink geword, baie wit soos sneeu, wit soos geen bleiker op aarde dit kan maak nie.
94En daar het aan hulle verskyn Elía saam met Moses, en hulle was in gesprek met Jesus.
95Toe spreek Petrus en sê vir Jesus: Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons dan drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en vir Elía een.
96Want hy het nie geweet wat om te sê nie, want hulle was heeltemal verskrik.
97En daar kom 'n wolk wat hulle oordek; en uit die wolk kom 'n stem wat sê: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom!
98En meteens kyk hulle rond en sien niemand meer by hulle nie, behalwe Jesus alleen.
99En onderwyl hulle van die berg afklim, gee Hy aan hulle bevel om aan niemand te vertel wat hulle gesien het voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie.
910En hulle het die woord vir hulleself gehou en onder mekaar gevra wat dit beteken om uit die dode op te staan.
911En hulle vra Hom en sê: Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elía eers moet kom?
912Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Dis waar, Elía kom eers om alles te herstel; en tog, hoe staan daar dan van die Seun van die mens geskrywe dat Hy baie moet ly en verag word?
913Maar Ek sê vir julle dat Elía al gekom het, en hulle het aan hom gedoen alles wat hulle wou, soos van hom geskrywe is.
914En toe Hy by die dissipels kom, sien Hy 'n groot menigte om hulle, en skrifgeleerdes wat met hulle redetwis.
915En dadelik toe die hele skare Hom sien, was hulle baie verbaas en het na Hom gehardloop en Hom gegroet.
916Daarop vra Hy die skrifgeleerdes: Waarom redetwis julle met hulle?
917En een uit die skare antwoord en sê: Meester, ek het my seun wat 'n stomme gees het, na U gebring;
918en waar hy hom ook aangryp, skeur hy hom; en hy kry skuim in die mond, en hy kners met sy tande en word styf; en ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie.
919Toe antwoord Hy hom en sê: o Ongelowige geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom na My toe.
920En hulle bring hom na Hom toe; en toe hy Hom sien, laat die gees hom dadelik stuiptrekkings kry, en hy val op die grond neer en rol rond met skuim in die mond.
921Daarop vra Hy sy vader: Hoe lank is dit al dat dit hom oorgekom het? En hy sê: Van sy kindsdae af;
922en dikwels het hy hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.
923En Jesus sê vir hom: Wat dit betref--as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.
924En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!
925En toe Jesus sien dat 'n skare bymekaar stroom, het Hy die onreine gees bestraf en vir hom gesê: Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.
926En nadat hy geskreeu en hom baie stuiptrekkings laat kry het, het hy uitgegaan. En die seun het soos 'n dooie geword, sodat baie gesê het: Hy is dood.
927Maar Jesus het hom by die hand gegryp en hom opgerig; en hy het opgestaan.
928En toe Hy in die huis kom, vra sy dissipels Hom afsonderlik: Waarom kon ons hom nie uitdrywe nie?
929En Hy sê vir hulle: Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie.
930En hulle het daarvandaan weggegaan en verbygetrek deur Galiléa; en Hy wou nie hê dat iemand dit moes weet nie.
931Want Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: Die seun van die mens word oorgelewer in die hande van die mense, en hulle sal Hom doodmaak; en nadat Hy gedood is, sal Hy die derde dag opstaan.
932En hulle het die gesegde nie verstaan nie en was bang om Hom uit te vra.
933En Hy het in Kapérnaüm gekom; en toe Hy in die huis was, vra Hy hulle: Wat het julle op die pad met mekaar geredeneer?
934Maar hulle het stilgebly; want hulle het op die pad met mekaar gepraat oor wie die grootste is.
935En toe Hy gaan sit het, roep Hy die twaalf en sê vir hulle: As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees.
936En Hy neem 'n kindjie en laat hom in hul midde staan en slaan sy arms om hom en sê vir hulle:
937Elkeen wat een van sulke kindertjies ontvang in my Naam, ontvang My. En elkeen wat My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het.
938Toe antwoord Johannes Hom en sê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdryf en wat ons nie volg nie; en ons het hom belet, omdat hy ons nie volg nie.
939Maar Jesus sê: Moet hom nie belet nie, want daar is niemand wat 'n krag in my Naam sal doen en gou van My sal kan kwaadspreek nie;
940want wie nie teen ons is nie, is vir ons.
941Want elkeen wat vir julle in my Naam 'n beker water gee om te drink, omdat julle aan Christus behoort, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.
942En elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is beter vir hom as 'n meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word.
943En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur,
944waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.
945En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word in die onuitbluslike vuur,
946waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.
947En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word,
948waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.
949Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word.
950Die sout is goed, maar as die sout souteloos word, waarmee sal julle dit smaaklik maak? Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar.
101En Hy het opgestaan en daarvandaan deur die oorkant van die Jordaan na die gebied van Judéa gegaan; en weer het 'n skare by Hom vergader; en soos Hy gewoond was, het Hy hulle weer geleer.
102Toe kom die Fariseërs na Hom; en, om Hom te versoek, stel hulle Hom die vraag of dit 'n man geoorloof is om van sy vrou te skei?
103Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Wat het Moses julle beveel?
104En hulle sê: Moses het toegelaat om 'n skeibrief te skrywe en van haar te skei.
105En Jesus antwoord en sê vir hulle: Vanweë die hardheid van julle harte het hy vir julle hierdie gebod geskrywe,
106maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak.
107Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef,
108en hulle twee sal een vlees word, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees.
109Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.
1010En in die huis het sy dissipels Hom weer oor dieselfde saak gevra.
1011En Hy sê vir hulle: Elkeen wat van sy vrou skei en 'n ander een trou, pleeg egbreuk teen haar;
1012en as 'n vrou van haar man skei en met 'n ander een trou, pleeg sy egbreuk.
1013En hulle het kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak; en die dissipels het die wat hulle gebring het, bestraf.
1014Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.
1015Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.
1016En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën.
1017En toe Hy op die pad uitgaan, hardloop daar een na Hom toe en val voor Hom op die knieë en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?
1018En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God.
1019Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag niemand te kort doen nie; eer jou vader en jou moeder.
1020Maar hy antwoord en sê vir Hom: Meester, al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af.
1021En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort--gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My.
1022Maar hy het treurig geword oor dié woord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad.
1023Toe kyk Jesus rond en sê vir sy dissipels: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan!
1024En die dissipels was verbaas oor sy woorde; maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan!
1025Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.
1026En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word?
1027Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.
1028Toe begin Petrus vir Hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg.
1029En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie,
1030of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.
1031Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste.
1032En hulle was op die pad terwyl hulle opgaan na Jerusalem, en Jesus het voor hulle uit gegaan, en hulle was verbaas; en terwyl hulle volg, het hulle gevrees. En Hy het weer die twaalf by Hom geneem en aan hulle begin vertel die dinge wat met Hom sou gebeur.
1033Kyk, sê Hy, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en die skrifgeleerdes, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene;
1034en hulle sal Hom bespot en Hom gésel en op Hom spuug en Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan.
1035En Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, het na Hom gekom en gesê: Meester, ons wil hê dat U vir ons moet doen wat ons U ook al mag vra.
1036En Hy sê vir hulle: Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?
1037En hulle antwoord Hom: Gee aan ons dat ons mag sit in u heerlikheid, een aan u regter-- en een aan u linkerhand.
1038Maar Jesus sê vir hulle: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word?
1039En hulle antwoord Hom: Ons kan. Maar Jesus sê vir hulle: Dis waar, die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word;
1040maar om te sit aan my regter-- en aan my linkerhand, berus nie by My om te gee nie, maar dit is vir hulle vir wie dit berei is.
1041En toe die tien dit hoor, begin hulle verontwaardig te word oor Jakobus en Johannes.
1042Maar Jesus het hulle na Hom geroep en vir hulle gesê: Julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen;
1043maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.
1044En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees.
1045Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie.
1046En hulle het in Jérigo gekom. En toe Hy en sy dissipels en 'n aansienlike skare uit Jérigo uitgaan, sit die blinde man, Bartiméüs, die seun van Timéüs, langs die pad en bedel.
1047En toe hy hoor dat dit Jesus die Nasaréner was, begin hy om uit te roep en te sê: Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!
1048En baie het hom bestraf, dat hy moet stilbly; maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig!
1049Toe gaan Jesus staan en sê dat hy geroep moes word; en hulle roep die blinde man en sê vir hom: Hou goeie moed, staan op! Hy roep jou.
1050En hy gooi sy oorkleed af, staan op en kom na Jesus toe.
1051En Jesus antwoord en sê vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: Rabbóni, dat ek mag sien.
1052En Jesus sê vir hom: Gaan, jou geloof het jou gered. En dadelik het hy gesien en Jesus op die pad gevolg.
111En toe hulle naby Jerusalem kom, by Bétfagé en Betánië, aan die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels uit
112en sê vir hulle: Gaan na daardie dorp reg voor julle; en dadelik as julle daar inkom, sal julle 'n eselsvul vind wat vasgemaak is, waar geen mens op gesit het nie. Maak hom los en bring hom.
113En as iemand vir julle sê: Waarom doen julle dit? moet julle antwoord: Die Here het hom nodig; en dadelik sal hy hom hierheen stuur.
114En hulle het gegaan en die vul by die deur, buite op die straat, vasgemaak gevind en hom losgemaak.
115Daarop sê sommige van die wat daar staan, vir hulle: Wat maak julle dat julle die vul losmaak?
116En hulle antwoord hul soos Jesus beveel het. Toe laat hulle hul begaan.
117En hulle het die vul na Jesus gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het op hom gaan sit.
118Toe gooi baie mense hulle klere op die pad oop, en ander kap takke van die bome af en strooi dit op die pad.
119En die wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!
1110Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here, die koninkryk van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste hemele!
1111En Jesus het in Jerusalem gekom en in die tempel. En nadat Hy alles rondom bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betánië.
1112En die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad;
1113en toe Hy op 'n afstand 'n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.
1114En Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou 'n vrug eet nie! En sy dissipels het dit gehoor.
1115En hulle het in Jerusalem gekom; en toe Jesus in die tempel ingaan, begin Hy om die wat in die tempel verkoop en koop, uit te jaag; en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi;
1116en Hy het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie.
1117En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis moet 'n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.
1118En die skrifgeleerdes en die owerpriesters het dit gehoor en gesoek hoe hulle Hom kon ombring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verslae was oor sy leer.
1119En toe dit laat word, het Hy uitgegaan buitekant die stad.
1120En toe hulle vroeg in die môre verbygaan, sien hulle die vyeboom, verdroog van die wortels af.
1121En Petrus het onthou en vir Hom gesê: Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.
1122Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.
1123Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see--en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur--hy sal verkry net wat hy sê.
1124Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.
1125En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.
1126Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.
1127En hulle het weer in Jerusalem gekom. En terwyl Hy in die tempel rondwandel, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge na Hom
1128en sê vir Hom: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U dié gesag gegee om dit te doen?
1129En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra, en antwoord julle My, dan sal Ek julle vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen.
1130Die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense? Antwoord My.
1131En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel--sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?
1132Maar as ons sê: Uit mense--dan was hulle vir die volk bang, want almal het gedink dat Johannes werklik 'n profeet was.
1133En hulle antwoord en sê vir Jesus: Ons weet nie. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.
121Toe begin Hy deur gelykenisse vir hulle te sê: 'n Man het 'n wingerd geplant en 'n heining daarom gesit en 'n parskuip gegrawe en 'n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan.
122En op die regte tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur om van die landbouers uit die vrug van die wingerd te ontvang;
123maar hulle het hom geneem en geslaan en hom met leë hande weggestuur.
124En weer het hy 'n ander dienskneg na hulle gestuur; en hom het hulle gestenig en aan die hoof gewond, hom skandelik behandel en teruggestuur.
125En weer het hy 'n ander een gestuur, en hom het hulle doodgemaak; ook baie ander--sommige het hulle geslaan en ander doodgemaak.
126Hy het toe nog een seun gehad, sy geliefde, en hom die laaste na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien.
127Maar daardie landbouers het by hulleself gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, en die erfdeel sal ons s'n wees.
128En hulle het hom geneem en doodgemaak en buitekant die wingerd uitgewerp.
129Wat sal die eienaar van die wingerd dan doen? Hy sal kom en die landbouers ombring en die wingerd aan ander gee.
1210Het julle nie ook hierdie Skrifwoord gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword?
1211Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë.
1212En hulle het probeer om Hom in die hande te kry, maar was bang vir die skare, want hulle het begryp dat Hy die gelykenis met die oog op hulle uitgespreek het. Daarop het hulle Hom verlaat en weggegaan.
1213Toe stuur hulle na Hom sommige van die Fariseërs en van die Herodiane om Hom op 'n woord te betrap.
1214En hulle kom en sê vir Hom: Meester, ons weet dat U waaragtig is en U aan niemand steur nie; want U sien nie die persoon van mense aan nie, maar U leer die weg van God in waarheid. Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons betaal of moet ons nie betaal nie?
1215Maar Hy het hulle geveinsdheid geken en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Bring vir My 'n penning, dat Ek dit kan sien.
1216En hulle het dit gebring. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? En hulle antwoord Hom: Die keiser s'n.
1217Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle was verwonderd oor Hom.
1218Toe kom daar Sadduseërs na Hom, die wat sê dat daar geen opstanding is nie, en hulle vra Hom en sê:
1219Meester, Moses het ons voorgeskrywe: As iemand se broer sterwe en 'n vrou agterlaat en geen kinders nalaat nie, moet sy broer sy vrou neem en kinders vir sy broer verwek.
1220Nou was daar sewe broers, en die eerste het 'n vrou geneem en gesterwe sonder om kinders na te laat.
1221En die tweede het haar geneem en gesterwe, en hy het ook geen kinders nagelaat nie; en die derde net so.
1222En al sewe het haar geneem en geen kinders nagelaat nie. Laaste van almal het die vrou ook gesterwe.
1223In die opstanding dan, wanneer hulle opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? --want al sewe het haar as vrou gehad.
1224En Jesus antwoord en sê vir hulle: Is dit nie daarom dat julle dwaal dat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie?
1225Want wanneer hulle uit die dode opstaan, trou hulle nie en word hulle nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele wat in die hemele is.
1226En wat die dode betref, dat hulle opstaan--het julle nie gelees in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, hoe God vir hom gesê het: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob nie?
1227God is nie 'n God van dooies nie, maar 'n God van lewendes. Julle dwaal dus grootliks.
1228En toe een van die skrifgeleerdes wat bygekom het, hulle hoor redetwis, en wis dat Hy hulle goed geantwoord het, vra hy vir Hom: Wat is die eerste gebod van almal?
1229En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is 'n enige Here;
1230en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod.
1231En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.
1232En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie;
1233en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers.
1234Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.
1235En terwyl Jesus in die tempel leer, antwoord Hy en sê: Hoe sê die skrifgeleerdes dat die Christus die seun van Dawid is?
1236Want Dawid self het deur die Heilige Gees gesê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete.
1237Dawid self noem Hom dus Here; waarvandaan is Hy dan sy seun? En die groot menigte het graag na Hom geluister.
1238En Hy het aan hulle in sy onderrig gesê: Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van begroetinge op die markte hou
1239en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye--
1240hulle wat die huise van die weduwees opeet en vir die skyn lang gebede doen. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.
1241En Jesus het reg voor die skatkis gaan sit en gekyk hoe die skare geld in die skatkis gooi. En baie rykes het veel ingegooi.
1242En daar kom een arm weduwee en gooi twee geldstukkies in, dit is 'n oortjie.
1243Toe roep Hy sy dissipels na Hom en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het.
1244Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.
131En toe Hy uit die tempel uitgaan, sê een van sy dissipels vir Hom: Meester, kyk watter klippe en watter geboue!
132En Jesus antwoord en sê vir hom: Sien jy hierdie groot geboue? Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie!
133En toe Hy gaan sit het op die Olyfberg, regoor die tempel, vra Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas Hom afsonderlik:
134Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word?
135En Jesus antwoord hulle en begin te sê: Pas op dat niemand julle mislei nie.
136Want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! En hulle sal baie mense mislei.
137Maar wanneer julle hoor van oorloë en gerugte van oorloë, moet julle nie verskrik word nie, want dit moet kom. Maar dit is nog nie die einde nie.
138Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is 'n begin van die smarte.
139Maar wees julle vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke, en in sinagoges sal julle geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot 'n getuienis.
1310En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word.
1311En wanneer hulle jul weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in dié uur gegee word, dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees.
1312En die een broer sal die ander tot die dood oorlewer, en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak.
1313En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
1314En wanneer julle die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan waar dit nie behoort nie--laat hom wat lees, oplet--dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug;
1315en wie op die dak is, moet nie afkom in die huis en ook nie ingaan om iets uit sy huis weg te neem nie;
1316en wie op die land is, moet nie omdraai na wat agter is om sy kleed weg te neem nie.
1317Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae!
1318En bid dat julle vlug nie in die winter mag plaasvind nie.
1319Want daardie dae sal daar 'n verdrukking wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie.
1320En as die Here dié dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy dié dae verkort.
1321En as iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Kyk, daar! --moet dit nie glo nie.
1322Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.
1323Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê.
1324Maar in daardie dae, ná dié verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie,
1325en die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemele is, sal geskud word.
1326En dan sal hulle die Seun van die mens op die wolke sien kom met groot krag en heerlikheid.
1327En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.
1328En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.
1329So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat dit naby is, voor die deur.
1330Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.
1331Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
1332Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.
1333Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.
1334Dit is soos 'n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak.
1335Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie;
1336dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie.
1337En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!
141En die pasga en die fees van die ongesuurde brode sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak.
142Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien 'n oproer onder die volk kom nie.
143En toe Hy in Betánië was, in die huis van Simon, die melaatse, terwyl Hy aan tafel was, kom daar 'n vrou met 'n albaste fles met egte, baie kosbare nardussalf; en sy breek die albaste fles en gooi dit op sy hoof uit.
144En daar was sommige wat by hulleself verontwaardig was en gesê het: Waarvoor het hierdie verkwisting van die salf plaasgevind?
145Want dit kon vir meer as drie honderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee geword het. En hulle het teen haar uitgevaar.
146Maar Jesus sê: Laat haar staan; waarom val julle haar lastig? Sy het 'n goeie werk aan My gedoen.
147Want die armes het julle altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen; maar My het julle nie altyd nie.
148Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam vir die begrafnis gesalf.
149Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot 'n gedagtenis aan haar.
1410En Judas Iskáriot, een van die twaalf, het na die owerpriesters gegaan om Hom aan hulle oor te lewer.
1411En toe hulle dit hoor, was hulle bly en het belowe om hom geld te gee. En hy het na 'n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.
1412En op die eerste dag van die ongesuurde brode, wanneer hulle gewoonlik die pasga geslag het, sê sy dissipels vir Hom: Waar wil U hê moet ons gaan klaarmaak, dat U die pasga kan eet?
1413En Hy stuur twee van sy dissipels en sê vir hulle: Gaan na die stad toe; en 'n man wat 'n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom,
1414en waar hy ook mag ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: Die Meester laat weet: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die pasga kan eet?
1415En hy sal julle 'n groot bovertrek wys, in gereedheid gebring. Daar moet julle vir ons klaarmaak.
1416En sy dissipels het gegaan en in die stad gekom en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die pasga toeberei.
1417En toe dit aand geword het, kom Hy met die twaalf.
1418En terwyl hulle aan tafel was en eet, sê Jesus: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.
1419Toe het hulle begin om bedroef te word en een vir een aan Hom te sê: Is dit miskien Ek? En 'n ander een: Is dit miskien ek?
1420En Hy antwoord en sê vir hulle: Dit is een van die twaalf wat saam met My sy hand in die skottel insteek.
1421Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is; maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.
1422En terwyl hulle eet, neem Jesus brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.
1423Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle, en hulle het almal daaruit gedrink.
1424En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word.
1425Voorwaar Ek sê vir julle, Ek sal nooit meer van die vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut sal drink in die koninkryk van God.
1426En toe hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.
1427Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My; want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape sal verstrooi word.
1428Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan.
1429En Petrus sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie.
1430Daarop sê Jesus vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën.
1431Maar hy het nog baie meer aangehou en gesê: Al moes ek saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! En net so het almal ook gesê.
1432Toe kom hulle in 'n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid.
1433En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word.
1434En Hy sê vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak.
1435En toe Hy 'n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan.
1436En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.
1437En Hy kom en vind hulle aan die slaap en sê vir Petrus: Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur te waak nie?
1438Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.
1439Hy gaan toe weer weg en bid dieselfde woorde.
1440En toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar; en hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie.
1441En Hy kom vir die derde keer en sê aan hulle: Slaap maar voort en rus. Dit is genoeg; die uur het gekom. Kyk, die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van die sondaars.
1442Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai.
1443En dadelik, terwyl Hy nog spreek, verskyn Judas wat een van die twaalf was, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge.
1444En sy verraaier het 'n teken met hulle afgespreek en gesê: Die een wat ek sal soen--dit is Hy; gryp Hom en neem Hom met sekerheid weg.
1445En toe hy kom, gaan hy dadelik na Hom en sê: Rabbi, Rabbi! en soen Hom.
1446Daarop slaan hulle hul hande aan Hom en gryp Hom.
1447En een van die wat daar gestaan het, het sy swaard uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.
1448En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en stokke om My gevange te neem?
1449Dag vir dag was Ek by julle in die tempel besig om te leer, en julle het My nie gegryp nie. Maar die Skrifte moes vervul word.
1450Toe het almal Hom verlaat en gevlug.
1451En 'n sekere jongman met 'n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg; en die jongmanne het hom gegryp;
1452maar hy het die linnedoek laat staan en naak van hulle weggevlug.
1453En hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester. En al die owerpriesters en die ouderlinge en die skrifgeleerdes het by hom vergader.
1454En Petrus het Hom van ver af gevolg tot binne-in die paleis van die hoëpriester, en het saam met die dienaars gesit en hom by die vuur warm gemaak.
1455En die owerpriesters en die hele Raad het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en hulle het niks gevind nie;
1456want baie het vals teen Hom getuig en die getuienisse was nie eenders nie.
1457En sommige het opgestaan en vals teen Hom getuig en gesê:
1458Ons het Hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae 'n ander een opbou wat nie met hande gemaak is nie.
1459En selfs so was hulle getuienis nie eenders nie.
1460Toe staan die hoëpriester in hul midde op en vra Jesus en sê: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U?
1461Maar Hy het stilgebly en geen antwoord gegee nie. Weer stel die hoëpriester Hom die vraag en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die geseënde God?
1462En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.
1463Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig!
1464Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het almal Hom veroordeel dat Hy die dood skuldig was.
1465En sommige het begin om op Hom te spuug en sy aangesig toe te maak en Hom met die vuis te slaan en vir Hom te sê: Profeteer! En die dienaars het Hom met stokke geslaan.
1466En terwyl Petrus onder in die binneplaas was, kom daar een van die diensmeisies van die hoëpriester,
1467en toe sy Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: Jy was ook by die Nasaréner, Jesus.
1468Maar hy het dit ontken en gesê: Ek weet nie en begryp nie wat jy sê nie. En hy het buite na die voorplein gegaan; en die haan het gekraai.
1469En toe die diensmeisie hom weer sien, begin sy aan die wat daar staan, te sê: Hierdie man behoort by hulle.
1470Maar hy het dit weer ontken. En 'n bietjie later weer sê die wat daar staan vir Petrus: Waarlik, jy behoort by hulle, want jy is ook 'n Galiléër en jou spraak is net so.
1471Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken nie daardie man van wie julle praat nie.
1472En vir die tweede keer het die haan gekraai; en Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het: Voor die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. En hy het in trane uitgebars.
151En dadelik, vroeg in die môre, het die owerpriesters saam met die ouderlinge en skrifgeleerdes en die hele Raad 'n besluit geneem; en nadat hulle Jesus geboei het, het hulle Hom weggelei en aan Pilatus oorgelewer.
152En Pilatus het Hom gevra: Is U die Koning van die Jode? En Hy het geantwoord en vir hom gesê: U sê dit.
153En die owerpriesters het baie beskuldiginge teen Hom ingebring.
154En Pilatus het Hom weer gevra en gesê: Antwoord U niks nie? Kyk hoe baie getuienisse hulle teen U inbring.
155Maar Jesus het niks meer geantwoord nie, sodat Pilatus hom verwonder het.
156En op die fees was hy gewoond om een gevangene, die een wat hulle gevra het, vir hulle los te laat.
157En daar was 'n sekere Barábbas wat met mede-oproermakers in die gevangenis was; en hulle het in die opstand 'n moord begaan.
158En die skare het geskreeu en begin vra dat hy vir hulle sou doen soos altyd.
159Toe antwoord Pilatus en sê vir hulle: Wil julle hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat?
1510Want hy het geweet dat die owerpriesters Hom uit nydigheid oorgelewer het.
1511Maar die owerpriesters het die skare aangehits dat hy liewer Barábbas vir hulle moes loslaat.
1512Toe antwoord Pilatus weer en sê vir hulle: Wat wil julle dan hê moet ek doen met Hom wat julle Koning van die Jode noem?
1513En hulle skreeu weer: Kruisig Hom!
1514Maar Pilatus sê vir hulle: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Hulle skreeu toe nog harder: Kruisig Hom!
1515En omdat Pilatus aan die skare hulle sin wou gee, het hy Barábbas vir hulle losgelaat; en nadat hy Jesus laat gésel het, het hy Hom oorgelewer om gekruisig te word.
1516Toe lei die soldate Hom weg in die binneplaas, dit is die goewerneur se paleis, en hulle roep die hele leërafdeling bymekaar
1517en trek Hom 'n purperkleed aan en vleg 'n kroon van dorings en sit dit vir Hom op;
1518en hulle begin Hom begroet: Wees gegroet, Koning van die Jode!
1519En hulle slaan Hom met 'n riet op die hoof en spuug op Hom en val op die knieë en bring Hom hulde.
1520En toe hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die purperkleed uit en trek Hom sy eie klere aan; en hulle lei Hom weg om Hom te kruisig.
1521En hulle het 'n sekere Simon van Ciréne wat van die veld af gekom het, die vader van Alexander en Rufus, gedwing om sy kruis te dra.
1522En hulle het Hom gebring op die plek Gólgota, dit is, as dit vertaal word: Plek van die Hoofskedel.
1523Toe gee hulle Hom wyn met mirre gemeng om te drink, maar Hy het dit nie geneem nie.
1524En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp oor wat elkeen moes kry.
1525En dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het.
1526En die opskrif van sy beskuldiging was bokant Hom geskrywe: DIE KONING VAN DIE JODE.
1527Hulle het ook twee rowers saam met Hom gekruisig, een aan sy regter-- en een aan sy linkerkant.
1528En die Skrif is vervul wat sê: En Hy is by die misdadigers gereken.
1529En die verbygangers het Hom gesmaad, terwyl hulle hul hoof skud en sê: Ha, U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou,
1530verlos Uself en kom af van die kruis!
1531En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes gespot en vir mekaar gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.
1532Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo! Ook die wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.
1533En toe dit die sesde uur was, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur toe.
1534En die negende uur het Jesus met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?
1535En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Kyk, Hy roep na Elía.
1536Toe hardloop een en maak 'n spons vol asyn en sit dit op 'n riet en laat Hom drink; en hy sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom af te haal.
1537Maar Jesus het met 'n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas.
1538En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder.
1539En toe die hoofman oor honderd wat daar reg voor Hom staan, sien dat Hy so uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas het, sê hy: Waarlik, Hy was die Seun van God.
1540En daar was ook vroue wat van ver af dit aanskou het. Onder hulle was Maria Magdaléna ook, en Maria, die moeder van Jakobus, die kleine, en van Joses, en Salóme--
1541hulle wat Hom gevolg en Hom gedien het toe Hy in Galiléa was--en baie ander vroue wat saam met Hom opgegaan het na Jerusalem.
1542En toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat,
1543kom daar 'n vername raadslid, Josef van Arimathéa, wat self ook die koninkryk van God verwag het; en hy waag dit om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra.
1544En Pilatus was verwonderd dat Hy al dood was, en hy het die hoofman oor honderd geroep en hom gevra of Hy al lank dood was.
1545En toe hy dit van die hoofman oor honderd verneem het, het hy die liggaam aan Josef geskenk.
1546En hy het linne gekoop, en Hom afgehaal en in die linne toegedraai, en Hom neergelê in 'n graf wat in 'n rots uitgekap was. En hy het 'n steen teen die opening van die graf gerol.
1547En Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Joses, het gesien waar Hy neergelê word.
161En toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme speserye gekoop om Hom te gaan salf.
162En baie vroeg op die eerste dag van die week, net ná sonop, kom hulle by die graf.
163En hulle sê vir mekaar: Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol?
164En toe hulle opkyk, sien hulle dat die steen weggerol was, want dit was baie groot.
165En toe hulle in die graf ingegaan het, sien hulle 'n jongman, met 'n lang wit kleed om, aan die regterkant sit, en hulle het baie geskrik.
166En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasaréner wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het.
167Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galiléa. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.
168Toe gaan hulle haastig uit en vlug van die graf af weg. En bewing en ontsetting het hulle aangegryp. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle het gevrees.
169En nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna, uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het.
1610Sy het gegaan en dit vertel aan die wat saam met Hom gewees het, terwyl hulle treur en ween.
1611En toe hulle hoor dat Hy lewe en deur haar gesien is, het hulle dit nie geglo nie.
1612En hierna het Hy in 'n ander gedaante verskyn aan twee van hulle terwyl hulle loop, op pad in die veld.
1613Hulle het ook gegaan en dit aan die ander vertel, maar dié het hulle ook nie geglo nie.
1614Later het Hy aan die elf self verskyn toe hulle aan tafel was, en Hy het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt, omdat hulle die wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie.
1615En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
1616Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.
1617En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek,
1618slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.
1619Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.
1620Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen.