Share this page:  
 

Multilingual Scriptures

(Compare books in 2 different language versions of your choice)

Comparison Search:

Select Language version and font:
You can only select max. of two versions.
Book:
Chapter:
Verse:
---------
From: To:

Free Search:

Select Language version and font:
Enter search text:

Multilingual Scriptures Home » Afrikaans 1953 Bible » Joel

Afrikaans 1953 Bible
Chapter # Verse # Verse Detail
11Die woord van die HERE wat tot Joël, die seun van Pétuel, gekom het.
12Hoor dit, o oudstes, en luister, alle inwoners van die land! Het so iets ooit in julle dae of in die dae van julle vaders plaasgevind?
13Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag:
14Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind.
15Word wakker, julle dronkaards, en ween! En huil, al julle wyndrinkers! Oor die mos, omdat dit van julle mond weggeruk is.
16Want 'n sterk en ontelbare nasie het opgetrek oor my land; sy tande is leeutande, en dit kan byt soos 'n leeuin.
17Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het ál sy bas afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword.
18Weeklaag soos 'n jonkvrou wat oor die bruidegom van haar jeug met 'n roukleed omgord is.
19Spysoffer en drankoffer is ontruk aan die huis van die HERE; die priesters, die dienaars van die HERE, treur.
110Die veld is verwoes, die akkerland treur; want die koring is verwoes, die mos het weggedroog, die olie het verdwyn.
111Die landbouers staan beskaamd, die wynboere weeklaag oor die koring en oor die gars, omdat die oes op die land verlore is.
112Die wingerdstok het verdor, en die vyeboom het verwelk; die granaat, ook die palm en die appelboom, al die bome van die land het verdor; want beskaamd is die vreugde, weg van die mensekinders af.
113Omgord julle en klaag, o priesters! Huil, dienaars van die altaar! Kom, vernag in rouklere, dienaars van my God! Want die spysoffer en die drankoffer is geweer van die huis van julle God.
114Heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam! Versamel die oudstes, alle inwoners van die land in die huis van die HERE julle God, en roep tot die HERE.
115Ag, die dag! Want naby is die dag van die HERE, en hy kom soos 'n verwoesting van die Almagtige.
116Is die spys nie weggeruk voor ons oë nie, blydskap en gejuig weg uit die huis van onse God?
117Die graankorrels het weggekrimp onder hulle kluite, die voorraadkamers is verwoes, die graanbakke afgebreek, want die koring het verdor.
118Hoe sug die vee! Die troppe beeste is onrustig, want daar is geen weiveld vir hulle nie; ook die troppe kleinvee moet boet.
119Tot U, o HERE, roep ek, want 'n vuur het die weivelde van die woestyn verteer, en 'n vlam het al die bome van die veld aan die brand gesteek.
120Selfs die diere van die veld smag na U; want die waterstrome het opgedroog, en 'n vuur het die weivelde van die woestyn verteer.
21Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die HERE kom, want hy is naby--
22'n dag van duisternis en donkerheid, 'n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom 'n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.
23Voor hom uit verteer 'n vuur, en agter hom brand 'n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit 'n woeste wildernis; ook kan niks daaraan ontkom nie.
24Sy voorkoms is soos dié van perde, en net soos ryperde so hardloop hulle.
25Soos die gedruis van waens huppel hulle oor die bergtoppe, soos die geknetter van 'n vuurvlam wat die kaf verteer, soos 'n magtige volk wat vir die geveg opgestel is.
26Vir hom bewe die volke van angs, alle aangesigte verbleek.
27Soos helde hardloop hulle, soos krygsmanne klim hulle op die muur, en elkeen gaan sy eie koers; hulle verander nie van pad nie.
28En die een druk nie die ander nie; elkeen gaan sy eie pad; en tussen wapens deur val hulle; maar hulle bly in gelid.
29Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise, hulle dring by die vensters in soos 'n dief.
210Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in.
211En die HERE verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die HERE is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?
212Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag.
213En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil;
214wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy 'n seën sal agterlaat--'n spysoffer en 'n drankoffer aan die HERE julle God.
215Blaas die basuin op Sion, heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam!
216Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek.
217Laat die priesters, die dienaars van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: o HERE, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God?
218Toe het die HERE geywer vir sy land en sy volk verskoon.
219En die HERE het geantwoord en aan sy volk gesê: Kyk, Ek stuur vir julle koring en mos en olie, sodat julle daarvan versadig word, en Ek maak julle nie meer tot 'n voorwerp van smaad onder die nasies nie.
220Ja, Ek sal die sprinkaanswerm, uit die noorde afkomstig, van julle af wegjaag en dit wegdrywe na 'n dor en woeste land; sy voorhoede na die Oostelike See en sy agterhoede na die Westelike See toe. En sy stank sal opstyg, en 'n slegte reuk uit hom opgaan; want hy het alte groot dinge gedoen.
221Wees nie bevrees nie, o aarde, juig en wees bly, want die HERE doen groot dinge!
222Wees nie bevrees nie, diere van die veld, want die weivelde van die woestyn spruit uit, want die bome dra hulle vrugte, die vyeboom en die wingerdstok lewer hulle drag!
223En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die HERE julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.
224Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop.
225En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het--my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het.
226Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die HERE julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het, en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.
227En julle sal weet dat Ek in die midde van Israel is, en dat Ek die HERE julle God is, en niemand anders nie; en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.
228En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien.
229En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.
230En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare.
231Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom.
232En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep.
31Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander,
32sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle 'n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het.
33En oor my volk het hulle die lot gewerp en 'n jong seun weggegee vir 'n hoer en 'n meisie verkoop vir wyn en dit gedrink.
34En ook, wat het julle met My te doen, o Tirus en Sidon en al die landstreke van Filistéa? Wil julle My iets vergelde, of wil julle My iets aandoen? Gou, ylings sal Ek julle dade op julle hoof laat neerkom.
35Want julle het my silwer en my goud geneem en my kosbare skatte na julle tempels gebring.
36Verder het julle die kinders van Juda en die kinders van Jerusalem aan die kinders van Jawan verkoop, om hulle ver van hul grondgebied te verwyder.
37Kyk, Ek sal hulle laat opstaan uit die plek waarheen julle hulle verkoop het, en julle dade op julle hoof laat neerkom.
38En Ek sal julle seuns en julle dogters aan die kinders van Juda verkoop, en dié sal hulle verkoop aan die Sabeërs, aan 'n verafgeleë volk want die HERE het dit gespreek.
39Roep dit uit onder die nasies, heilig 'n oorlog! Wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom, opruk!
310Smee van julle pikke swaarde en van julle snoeimesse spiese; laat die swakke sê: Ek is 'n held.
311Haas julle en kom aan, alle nasies rondom, en versamel julle. Laat u helde, HERE, daarheen aftrek!
312Die nasies moet hulle klaarmaak en optrek na die dal van Jósafat; want daar sal Ek sit om gerig te hou oor al die nasies rondom.
313Steek die sekel in, want die oes is ryp! Kom trap, want die parskuip is vol, die kuipe loop oor! Want hulle boosheid is groot.
314Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die HERE in die dal van beslissing!
315Die son en die maan word duister, en die sterre trek hulle glans in.
316En die HERE brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die HERE sal 'n toevlug wees vir sy volk en 'n skuilplek vir die kinders van Israel.
317Dan sal julle weet dat Ek die HERE julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg; dan sal Jerusalem 'n heiligdom wees waar geen vreemdes meer deur sal trek nie.
318En op dié dag sal die berge drup van mos en die heuwels vloei van melk en al die spruitjies van Juda stroom van water; en uit die huis van die HERE sal daar 'n fontein uitkom om die dal Sittim te besproei.
319Egipte sal 'n woesteny word, en Edom 'n woeste wildernis wees, weens die geweld wat hulle die kinders van Juda aangedoen het, dat hulle onskuldige bloed in hul land vergiet het.
320Maar Juda sal vir ewig bly, en Jerusalem van geslag tot geslag.
321En Ek sal hulle bloed onskuldig verklaar, wat Ek tevore nie onskuldig verklaar het nie; en die HERE sal op Sion bly woon.