Share this page:  
 

Multilingual Scriptures

(Compare books in 2 different language versions of your choice)

Comparison Search:

Select Language version and font:
You can only select max. of two versions.
Book:
Chapter:
Verse:
---------
From: To:

Free Search:

Select Language version and font:
Enter search text:

Multilingual Scriptures Home » Afrikaans 1953 Bible » Song of Solomon

Afrikaans 1953 Bible
Chapter # Verse # Verse Detail
11Die hooglied van Salomo.
12Laat hy my kus met kusse van sy mond; want u liefde is kosteliker as wyn.
13U salf is aangenaam van geur, u naam is soos salf wat uitgegiet is; daarom het die jonkvroue u lief.
14Trek my agter u aan, laat ons gou maak! Die koning het my in sy binnekamers gebring. Ons wil juig en ons in u verheug, ons wil u liefde prys meer as wyn. Met reg het hulle u lief.
15Ek is bruin gebrand maar lieflik, o dogters van Jerusalem, soos die tente van Kedar, soos die gordyne van Salomo.
16Moenie na my kyk omdat ek so bruinerig is, omdat die son my verbrand het nie: die seuns van my moeder was toornig op my; hulle het my aangestel as oppasser van die wingerde; my eie wingerd het ek nie opgepas nie.
17Vertel my tog, my sielsbeminde, waar laat u wei, waar laat u smiddags die vee lê en rus? Want waarom sou ek wees soos een wat haar met 'n sluier toedraai by die kuddes van u metgeselle?
18As u dit self nie weet nie, mooiste onder die vroue, gaan dan uit op die spore van die skape en laat u bokkies wei by die hutte van die herders.
19Met die perde voor 'n wa van Farao vergelyk ek u, my vriendin!
110Lieflik is u wange tussen die kettinkies, u hals in die snoere.
111Ons sal vir u goue kettinkies maak met silwerknoppe.
112So lank as die koning aan sy tafel was, het my nardus sy geur gegee.
113My beminde is vir my 'n bossie mirre wat tussen my borste rus.
114My beminde is vir my 'n tros henna-blomme in die wingerde van Éngedi.
115Hoe mooi is u tog, my vriendin! Hoe mooi is u tog, u oë is soos duiwe!
116Hoe mooi is u tog, my beminde, ja lieflik; ook is ons bed in die groenigheid.
117Die balke van ons huise is seders, ons paneelwerk sipresse.
21Ek is 'n narsing van Saron, 'n lelie van die dale.
22Soos 'n lelie tussen die dorings, so is my vriendin onder die dogters.
23Soos 'n appelboom onder die bome van die bos, so is my beminde onder die seuns. Ek het verlang om in sy skaduwee te sit, en sy vrugte is soet vir my verhemelte.
24Hy het my in die wynhuis ingebring, en sy vaandel oor my was die liefde.
25Versterk my met rosynekoeke, verkwik my met appels, want ek is krank van liefde.
26Laat sy linkerarm onder my hoof wees en sy regterarm my omhels.
27Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, by die gemsbokke of by die takbokke van die veld, om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie.
28Hoor, my beminde, kyk, daar kom hy! Hy spring oor die berge, hy huppel oor die heuwels.
29My beminde lyk soos 'n gemsbok of soos 'n jong takbok. Daar staan hy agter ons muur! Hy kyk deur die vensters in, hy speur deur die tralies heen.
210My beminde begin toe en sê vir my: Staan op, my vriendin, my skone, kom dan tog!
211Want kyk, die winter is verby, die reëntyd is oor, dit het verbygegaan.
212Die bloeisels word gesien in die land, die sangtyd het aangebreek, en die tortelduif laat sy stem hoor in ons land.
213Die vyeboom laat sy voorvye uitswel, en die wingerdstokke wat bloei, versprei geur. Staan op, my vriendin, my skone, kom dan tog!
214My duif in die rotsklowe, in die skuilplek by die krans, laat my u gedaante sien, laat my u stem hoor; want u stem is soet, en u gedaante is lieflik.
215Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei.
216My beminde is myne, en ek is syne wat herder is onder die lelies.
217Totdat die aandwind waai en die skaduwees vlug, kom aan, my beminde, maak soos die gemsbok of soos die jong takbok op die berge van skeiding.
31Op my bed snags het ek gesoek na my sielsbeminde, ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie.
32Ek wil dan opstaan en in die stad rondgaan, in die strate en op die pleine wil ek na my sielsbeminde soek; ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie.
33Die wagte wat in die stad rondgaan, het my aangetref. Het julle my sielsbeminde nie gesien nie?
34Skaars het ek van hulle af verder gegaan, of ek het my sielsbeminde gevind; ek het hom vasgehou en hom nie gelos voordat ek hom gebring het in die huis van my moeder en in die binnekamer van haar wat my gebaar het nie.
35Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, by die gemsbokke of by die takbokke van die veld om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie.
36Wie is dit wat daar opkom uit die woestyn soos rookpilare, omgeurd van mirre en wierook, van allerhande speserye van die koopman?
37Kyk, dit is die draagstoel van Salomo, sestig helde daaromheen, van die helde van Israel,
38hulle almal met 'n swaard gewapend, geoefend vir oorlog, elkeen met sy swaard aan sy heup vanweë die nagtelike verskrikking.
39Koning Salomo het vir hom 'n draagstoel gemaak van die hout van die Líbanon;
310die steile daarvan het hy gemaak van silwer, die leuning van goud, die sitplek van purper, die binnekant mooi opgemaak--'n liefdegawe van die dogters van Jerusalem.
311Kom uit, dogters van Sion, en aanskou met vreugde die koning Salomo, die krans waarmee sy moeder hom bekrans het op sy troudag en op die dag dat sy hart vrolik is.
41Hoe mooi is u tog, my vriendin, hoe mooi is u tog, u oë is soos duiwe deur u sluier heen; u hare is soos 'n kudde bokke wat van die gebergte van Gílead afgolf.
42U tande is soos 'n kudde pas geskeerde skape wat van die drinkplek opkom, wat almal tweelinge het, en geeneen onder hulle is sonder lam nie.
43U lippe is soos 'n skarlaken band, en u mond is lieflik. U slape is soos 'n granaatskyf deur u sluier heen.
44U hals is soos die Dawidstoring, gebou met muurkranse waar die duisend skilde in hang, almal skilde van helde.
45U twee borste is soos twee lammers, tweelinge van 'n gemsbok, wat onder die lelies wei.
46Totdat die aandwind waai en die skaduwees vlug, sal ek gaan na die mirreberg en na die wierookheuwel.
47Alles is mooi aan u, my vriendin, en daar is geen gebrek aan u nie.
48Saam met my van die Líbanon af, bruid, saam met my van die Líbanon af, o kom! Trek af van die top van Amána, van die top van Senir en van Hermon, van die lêplekke van die leeus, van die berge van die luiperds.
49U het my hart gesteel, my susterbruid, u het my hart gesteel met een straal van u oë, met een kettinkie van u halssieraad.
410Hoe skoon is u liefde, my susterbruid, hoeveel beter is u liefde as wyn en die geur van u salf as al die speserye!
411Heuningstroop drup van u lippe af, bruid, heuning en melk is onder u tong, en die geur van u klere is soos die geur van die Líbanon.
412My susterbruid is 'n geslote tuin, 'n geslote bron, 'n verseëlde fontein.
413U spruite is 'n park van granate met kostelike vrugte, henna-blomme met nardus,
414nardus en saffraan, kalmoes en kaneel, met allerhande wierookstruike, mirre en alewee, met allerhande kostelike speserye.
415U is 'n fontein van die tuine, 'n put met lewende water wat van die Líbanon afvloei.
416Word wakker, noordewind, en kom, suidewind, deurwaai my tuin, laat sy balsemgeure uitvloei! Laat my beminde in sy tuin kom en van sy kostelike vrugte eet.
51Ek het in my tuin gekom, my susterbruid, ek het my mirre met my balsem gepluk, ek het geëet van my heuningkoek met my heuning, ek het gedrink my wyn met my melk; eet, vriende, drink en word dronk, bemindes.
52Ek het geslaap, maar my hart het gewaak. Hoor, my beminde klop: Maak vir my oop, my suster, my vriendin, my duif, my volmaakte! Want my hoof is vol dou, my haarlokke vol nagdruppels.
53Ek het my kleed uitgetrek, hoe kan ek dit weer aantrek? Ek het my voete gewas, hoe kan ek dit weer vuil maak?
54My beminde het sy hand deur die deuropening gesteek; toe het my binneste oor hom in beroering gekom;
55ek het opgestaan om vir my beminde oop te maak, terwyl my hande drup van mirre en my vingers van vloeiende mirre op die handvatsels van die grendel.
56Ek het vir my beminde oopgemaak, maar my beminde het weggedraai, verbygegaan; ek het my besinning verloor toe hy gespreek het; ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie; ek het na hom geroep, maar hy het my nie geantwoord nie.
57Die wagte wat in die stad rondgaan, het my aangetref; hulle het my geslaan, my gewond; die wagte by die mure het my mantel van my afgeneem.
58Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, as julle my beminde vind, wat sal julle hom vertel? Dat ek krank is van liefde.
59Wat is u beminde meer as 'n ander beminde, o skoonste onder die vroue--wat is u beminde meer as 'n ander beminde, dat u ons so besweer het?
510My beminde is skitterend wit en rooi, uitnemender as tien duisend.
511Sy hoof is goud, suiwer goud; sy haarlokke is golwende, swart soos 'n raaf,
512sy oë soos duiwe by waterstrome, in melk gewas, sittend by 'n volle bron.
513Sy wange is soos balsembeddings, terrasbeddings van geurige plante; sy lippe is lelies wat van vloeiende mirre drup.
514Sy hande is ronde stawe van goud, ingevul met chrisoliet, sy liggaam 'n kunswerk van ivoor, bedek met saffierstene.
515Sy bene is marmerpilare wat rus op voetstukke van fyn goud; sy gestalte is soos die Líbanon, uitgesoek soos die seders.
516Sy verhemelte is pure soetigheid, ja, hy is geheel en al die lieflikheid self. Dit is my beminde en dit is my vriend, dogters van Jerusalem.
61Waar het u beminde heengegaan, o skoonste onder die vroue? Waarheen het u beminde hom gewend, dat ons hom saam met u kan soek?
62My beminde het afgeloop na sy tuin, na die balsembeddings om hom te vermaak in die tuine en om lelies te versamel.
63Ek is my beminde s'n, en my beminde is myne--hy wat herder is onder die lelies.
64Mooi is u, my vriendin, soos Tirsa, lieflik soos Jerusalem, verskriklik soos slagordes met vaandels.
65Draai u oë van my af weg, want hulle verskrik my; u hare is soos 'n kudde bokke wat van Gílead afgolf.
66U tande is soos 'n kudde skaapooie wat van die drinkplek af opkom, wat almal tweelinge het, en geeneen onder hulle is sonder lam nie.
67U slape is soos 'n granaatskyf deur u sluier heen.
68Daar is sestig koninginne en tagtig byvroue en jonkvroue sonder getal.
69Een, dié is my duif, my volmaakte, die enigste vir haar moeder; sy is die uitverkorene vir die een wat haar gebaar het. Die dogters het haar gesien en haar gelukkig geprys, die koninginne en die byvroue, en haar geroem:
610Wie is dit wat daar opkom soos die dageraad, mooi soos die maan, rein soos die son, verskriklik soos slagordes met vaandels?
611Ek het afgeloop na die neutetuin om te kyk na die uitspruitsels in die dal, om te kyk of die wingerdstok uitloop, die granate blom.
612Voordat ek dit geweet het, het my verlange my verplaas op die waens van my edele volk.
613Kom terug, kom terug, Sulammitiese, kom terug, kom terug, dat ons u kan aansien. Wat sien julle aan die Sulammitiese? Iets soos die koordans van Mahanáim.
71Hoe mooi is u skrede in die skoene, o edele dogter! Die golwende lyne van u heupe is soos halssierade, 'n werk van kunstenaarshande.
72U nawel is 'n ronde kom--laat die gemengde wyn nie ontbreek nie. U liggaam is 'n hoop koring, omring deur lelies.
73U twee borste is soos twee lammers, tweelinge van 'n gemsbok.
74U hals is soos 'n ivoortoring, u oë vywers in Hesbon by die poort Bat-Rabbim; u neus soos die toring van die Líbanon wat na Damaskus toe uitkyk.
75U hoof op u is soos die Karmel, en die golwende hare van u hoof soos purper--'n koning gevang in haarlokke!
76Hoe mooi en hoe lieflik is u, o liefde, onder al die genietinge!
77U hoë gestalte daar lyk soos 'n dadelpalm, en u borste soos vrugtetrosse.
78Ek het gedink: Laat ek op die dadelpalm klim, laat ek sy trosse gryp; en laat u borste tog wees soos trosse van die wingerdstok, en die geur van u asem soos dié van appels,
79en u verhemelte soos die beste wyn wat vir my beminde saggies na binne gly, en oor die lippe vloei van die wat inslaap.
710Ek is my beminde s'n, en sy begeerte is na my.
711Kom, my beminde, laat ons uitgaan in die veld, laat ons in die dorpe vernag.
712Laat ons vroeg na die wingerde gaan, laat ons sien of die wingerdstok uitloop, die druiwebloeisel oopgaan, die granate blom. Daar sal ek u my liefde gee.
713Die liefdesappels gee geur, en by ons deure is allerhande kostelike vrugte, vars en oud; o my beminde, dit het ek vir u weggebêre.
81Ag, was u maar vir my soos 'n broer wat aan die borste van my moeder drink! As ek u daar buite vind, ek sou u kus; en tog sou hulle my nie verag nie.
82Ek sou u lei, ek sou u bring in die huis van my moeder; sy sou my leer; ek sou u laat drink van die gekruide wyn, van my granaatmos.
83Laat sy linkerarm onder my hoof wees en sy regterarm my omhels.
84Ek besweer julle, dogters van Jerusalem: Waarom wil julle wakker maak en waarom wil julle opwek die liefde voordat dit die liefde behaag?
85Wie is dit wat daar opkom uit die woestyn, wat leun op haar beminde? Onder die appelboom het ek u opgewek. Daar was u moeder in barensweë oor u, daar was sy in barensweë wat u voortgebring het.
86Dra my soos 'n seëlring op u hart, soos 'n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is 'n gloed van vuur, 'n vlam van die HERE.
87Groot waters kan die liefde nie uitblus en riviere dit nie oorstroom nie; al gee 'n man ook al die goed van sy huis vir die liefde, hulle sou hom diep verag.
88Ons het 'n klein sustertjie wat nog nie borste het nie; wat moet ons met ons suster maak dié dag as sy gevra word?
89As sy 'n muur is, sal ons 'n silwerrand daarop bou, en as sy 'n deur is, sal ons dit met 'n sederplank toeslaan.
810Ek is 'n muur, en my borste soos torings: toe het ek in sy oë geword soos een wat vrede vind.
811Salomo het 'n wingerd in Baäl-Hamon gehad; hy het die wingerd aan die oppassers oorgegee; elkeen moes vir sy vrugte duisend sikkels silwer inbring.
812My wingerd, myne, is hier voor my, die duisend sikkels is vir u, Salomo, en twee honderd vir die wat sy vrugte bewaak.
813U wat in die tuine woon vriende luister na u stem; laat my dit hoor.
814Vlug, my beminde, en maak soos die gemsbok of die jong takbok op die balsemberge.